Vir die afgelope vier weke bevind ek my in 'n totaal nuwe en uitdagende hoofstuk van my lewe. Na vier jaar het ek uiteindelik my graad in Wiskunde verwerf en kan ek my passie, naamlik onderwys, begin uitleef.
Ek is tans besig met my Nagraadse Onderwyssertifikaat met die doel om myself as 'n Wiskunde onderwyseres te kwalifiseer. Die denkwyse van spesifiek my Wiskunde dosent, is so verfrissend en ek leer so baie elke dag.
Hierdie afgelope paar weke het ons op die dieper kognitiewe beginsels agter sirkelmeetkunde gefokus. Ons het met 'n skok besef hoe min ervaring ons (as aspirant onderwysers) in hierdie gebied het! Die basiese begrippe van hoekverdubbeling, -halvering, ens. was vir ons nuut en ons moes lank daarmee sit en daaroor redeneer.
Dit is vir my besonders bevredigend om te weet dat ek besig is om gapings in my eie opleiding as onderwyseres te vul. Ons leer hoe om werklik na kinders te luister en te verstaan watter begrippe hulle oor Wiskunde het.
Hierdie is wat ek nog altyd wou gedoen het - ek kan nie wag om meer te leer nie!